Gereformeerde Kerk Strand

Carel Trichardt

Carel as Paul Kruger in Die Groot GryseKlein voor God tydens die GKSA se 150-jarige fees in 2009.

“Net maar ’n gewone mens met ’n ongewone werk”

Gesels jy met die bekende akteur Carel Trichardt, dan besef jy gou: Agter die kolligte op die verhoog lê daar harde werk. Maar vra jy vir hierdie veteraan van die Afrikaanse toneel wat die sleutel is van sy sukses in ’n merkwaardige loopbaan van meer as 60 jaar op die verhoog, agter die kateder en voor die kameras, is sy antwoord: Dis die Here se genade! Natuurlik, want daardie stem wat vir Carel Trichardt enig in sy soort maak, is inderdaad ’n gawe van die Here. Die jongeres onder ons sal die stem dalk onthou as die stem van Knersus, die prehistoriese reptiel wat ons kinders in die 80’s op die kassie vermaak het. Ons oueres weer as hy daardie epogmakende drama van Jan van Melle afsluit met die woorde: Ek is Bart Nel! En ek is nog hy!

Gewone mens met ’n ongewone werk?
Die boodskap waarmee wyle prof. Victor d’Assonville hom en Petru Wessels, aktrise in eie reg, 57 jaar gelede in die Paul Krugerkerk in Pretoria in die huwelik bevestig het, moes inderdaad getref het: Die huwelik is nie toneelspel nie.

Petru sê: Ek moet myself knyp om te dink hy is ’n akteur. En Carel? Toe ek hom half ydel vra: Hoe voel dit om ’n “celeb” te wees, was sy antwoord: Akteurs is maar net gewone mense wat ’n ongewone werk doen. Ek is baie dankbaar dat ek so baie rolle kon speel, maar dat ek steeds weet, wie ek is, wanneer ek nie ’n karakter vertolk nie.

Hy het nooit beplan om ’n akteur te word nie. Dit wat begin het toe hy as agtjarige seuntjie in die Laerskool Rustenburg “Oom Olifant” moes voordra, het met die tyd tweede natuur geword. Hy was maar deurentyd deeglik daarvan bewus: om akteur te kan wees, is ’n gawe van die Here. Die spesiale, die ongewone van die werk? As jy op die verhoog staan en daardie mistieke oomblik van kontak met jou gehoor breek deur, en diep in jou hart sê jy: Dankie Here. En jou woorde kry kleur en spesiale betekenis. Dis spesiaal.

Carel noem die akteur ’n kunstenaar in sneeu. Die skilder en die beeldhouer se kuns bly tasbaar staan, maar die akteur se kuns is daardie vlietende oomblik wanneer die woorde van die verhoog en die hart van die gehoor mekaar ontmoet. Daarna is dit weg, behalwe in die geheue van die gehoor. Hy het dit vir meer as 30 jaar lank aan sy studente oorgedra, eers as senior dosent en later as waarnemende hoof van die Universiteit van Pretoria se Departement Drama. Die kern van wat hy hulle geleer het, was “Wees aan jou stuk getrou”.

Maar is die wêreld van die akteur nie maar ’n bose wêreld nie?
Sy antwoord: Die toneelwêreld is net soos die gemeenskap. Dis nie meer goddeloos nie,  wel beslis meer vrydenkend. Dit is die wêreld waar ek my lig moet laat skyn. Die dramaturg hou ’n spieël op na die gemeenskap. Daarvoor is vloektaal tog nie nodig nie. Ja, ’n akteur moet getrou wees aan die karakter wat hy vertolk, al is dit die rowwe Jakes van Siener in die Subburbs. En tog: Shakespeare het in sy ganse literatuurskat nie ’n enkele vloekwoord gebruik nie. 

Sy dubbele erfenis
Aan vaderskant is Carel in die sesde geslag verbind aan die Voortrekkerpionier, Louis Trichardt. Ook aan vaderskant die vierde geslag van president Paul Kruger. Hy was nog ’n jong seuntjie toe sy pa as lid van die Ossewa Brandwag in die interneringskamp in Koffiefontein toegesluit is. Vir Carel is sy erfenis inderdaad vir hom mooi. Sy Afrikanererfenis en die skat van sy Gereformeerde erfenis. Afrikaans is die taal van sy hart. Hy ril so half as hy vertel van ’n Afrikaanse predikant wat in sy preek praat van die outreach waarop hulle hul blessing gee. As akademikus het hy hom beywer vir die uitbou van Afrikaans as vaktaal in die akteurswêreld.

Die uitmekaarval van soveel dinge in ons land gryp hom aan die hart, maar hy het steeds hoop vir Suid-Afrika. Vir hom is die uitbou van en die respek vir gemeen skappe in ons land van kardinale belang. Ons gaan nie ’n tweede Zimbabwe word nie. Die Here het ons nog altyd bewaar. Daar is hoop as die liefde heers. Ons land het sekulêr geword. Ons moet ons oë oopmaak, terug na die Woord.

Geloof is vir hom die wegkyk van jouself en jou uitreik na Bo. Die Here se paaie is nie verstaanbaar en nie verklaarbaar nie. Sy werke kan ons net kinderlik bewonder. Die mens is maar ’n klein-klein stippeltjie in God se skepping, en kyk hy na die wonder van die menslike liggaam, dan moet hy saam met die digter van Psalm 8 uitroep: O Here, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde.

Dit is duidelik dat die Gereformeerde Kerk hom na aan die hart lê. Meelewende limaat van ’n meelewende gemeente, die Gereformeerde Kerk Strand. Die herder is Ds. Dinant Zwemstra.

Hy en Petru vertel hoe hulle die gemeenskap van gelowiges gemis het in die inperkingstyd van die Covid-pandemie. Die prediking moenie opgaan in verdoemenis en oordeel nie, maar moet sentreer rondom die koms van Christus, rondom die heilsgeskiedenis. En, hoor ek by my seun Willie wat in dieselfde gemeente is: Oom Carel en Tannie Petru is nog van die min lidmate wat opstaan om aan die nagmaalstafel te gaan sit. Dis tog ’n maaltyd, en ons eet mos aan tafel, antwoord hy my as ek hom daarna vra. En hoe sal ons ooit vergeet hoe aan grypend hy met ons 150-jarige fees in 2009 op verskeie plekke en by ons kerke die rol van Paul Kruger vertolk het in die verhoogstuk Die Groot Gryse – Klein voor God. 

Carel en Petru met Die Kerkblad se kuier in Somerset-Wes

Carel en Petru

Die Here het ons op dieselfde tyd op die selfde plek geplaas. Dit was toe Petru Wessels in dieselfde tyd as hy in 1965 by TRUK begin speel het. (Carel raak skoon meegevoer as hy oor TRUK en die ander Kunsterade praat. Ons was een groot familie. Ons het nie net in teaters opgetree nie. Op ’n stadium het die TRUK Jeuggeselskap die land deurreis met ’n trok as verhoog – vir oor die 40 000 skoolkinders is gespeel. So jammer dat die Kunsterade van die vier provinsies in 1994 ontbind is.)
Hulle huwelik van 57 jaar met ’n mede-akteur is vir hulle albei ’n vreugde, ’n voorreg, ’n gawe van die Here. En, voeg Carel by: ’n lewensles. Sy het my op koers gehou.
En Petru? Ek leer so baie by hom. Ek wens ek het klas by hom gehad. Ek het baie hard gewerk aan ’n rol. Dit lyk of hy dit so moeiteloos doen. En dan: sy nederigheid. Sy kinderlike geloof. “Op alle vrae het ons nie nóú die antwoorde nie.”

Hulle deel nou nog dikwels die verhoog. Hulle stemmingsprogram Kersklanke is reeds sedert die negentigerjare op die planke. Onlangs het hulle saam in die film Posbus 1, Pretoria gespeel. Met die geboorte van hulle drie kinders, Gustav, Petro-Nelise en Lize-Marié, het Petru vir talle rolle nee gesê, omdat die kinders vir haar ’n prioriteit was.
Dit was vir hulle ’n geloofs ervaring toe hulle op 31 Oktober 2017 die verhoogstuk “Martin Luther … Genade Alleen” voor ’n groot gehoor in Pretoria kon opvoer. Dit was daardie dag presies 500 jaar nadat die Reformasie begin het toe Martin Luther sy 95 Stellinge teen die deur van die Slotkerk in Wittenberg vasgekap het. ’n Aantal opvoerings is oor die hele land gehou. Hy was Martin Luther, en sy die verteller, later Martin se vrou, Katharina von Bora.

Terugkyk en vorentoe kyk
Carel kyk met groot dankbaar heid terug op ’n lang en vol lewenspad. Kyk ek terug op my lewenspad, is daar veel meer wat ek graag sou wou doen. So lank ek kan. Tog was dit tot hier toe ’n vervulde lewe. Volgemaak deur die wonder van die gawe van die toneel. Volgemaak deur ’n wonderlike huwelik, deur ’n genadepad saam met die Here.

Hy sou graag die genade wil ontvang om die vrede te kry, die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Daar is so baie wat ons nog nie weet nie, maar hy weet vir seker: Daar is ’n plek. Hy weet hy kan hierdie lewe om Christus wil getroos  verlaat.

Carel het Die Dieper Reg van NP van Wyk Louw al by soveel geleenthede deurleef en oorgedra. Die volgende verse lê hom na aan die hart:

Carel in die rol van Kreon in die drama Antigone van Sofokles.

Miskien ook sal ons sterwe

en iewers ruggelings stort,

dat hierdie helder aarde

in ons verdonker word.

sal elkeen as hy magt’loos

naby die sterwe lê,

net hierdie eensaam wete

uiteindelik nog hê:

Miskien sal niemand later

mooi dinge van ons weet,

en nêrens sin te kry wees

in al ons stryd en leed,

dat ons nie kon gebuig word

soos húl geweld dit wou,

en dat ons hoog kon lewe

net aan ons bloed getrou.

Carel, NP van Wyk Louw het hierdie epiese verse aan ons volk opgedra. Die Kerkblad en al sy lesers wil dit vandag aan jou opdra. Daar is soveel “mooi dinge wat ons van jou weet” en nog baie later steeds sal onthou. Dat jy hoog kon lewe, aan alles wat ons Here aan jou geskenk het en waartoe Hy jou geroep het steeds getrou. 

Hierdie is ‘n herhaling van die artikel wat in die Julie 2023 uitgawe van die Kerkblad verskyn het en is geplaas met die toestemming van die redaksie van die Kerkblad . Dankie aan Ds C. Aucamp, die Redakteur van die Kerkblad.