Gereformeerde Kerk Strand

Evangelisasie is ‘n opdrag wat deur Christus gegee is. Om hierdie opdrag te kan uitvoer, is daar ongelukkig kostes aan verbonde. Vir hierdie rede bied ons gemeente finansiële ondersteuning aan die volgende:

GK Strand se betrokkenheid in Mosambiek

Rom 10:15 “Hoe wonderlik klink die voetstappe van die wat die Goeie Boodskap bring.”
Sedert 1998 is GK Strand betrokke in Zambesia- provinsie in Mosambiek, waar daar na raming 3 miljoen Mosambiekers woon wat nog nooit die Evangelie gehoor het nie. Daar was ook geen Reformatoriese kerkgebou in Mocuba nie (Egreja Reformada), net ‘n klein klei-geboutjie waar ‘n paar lidmate dienste gehou het. Mocuba is ‘n belangrike sentrum waar die hoofroetes noord/suid en oos/wes kruis.

Lidmate van GK Strand het ‘n sterk roeping gehad om ‘n aktiewe deelname in sendingwerk in Afrika te hê. Die Here het deure oopgemaak na Mosambiek op velerlei wyses. In 1998 het drie lidmate saam met NGK Helderberg op hul uitreik na Magodane (Maganja da Costa), Lojela en 3 ander dorpies vertrek. In 1999 het die eerste uitreik van GK Strand vertrek na Mosambiek, met 10 lidmate. Ons het 5 dae gery, 8 dae gewerk, en 5 dae teruggery. Sedertdien het Strand Magodane feitlik elke jaar besoek.

In 2009 ontvang ons gemeente ‘n belangrike brief van ds Herbart namens die Tumbine Sinode in Milange. Hulle meld dat hulle gedurig bid vir ‘n kerkgebou in Mocuba. ‘n Lidmaat het in Noord-Wes en Gauteng ‘n hele aantal Gereformeerde kerke besoek en vertel van die geestelike nood in die Zambesia- provinsie. Daarna het wonderwerke gebeur. Skenkings van Gereformeerde kerke oral is ontvang waar gemeentes bewus begin raak het van die nood. Donasies was gestuur vir die kerkbouprojek in Mocuba. Fondinsamelings is van stapel gestuur deur GK Strand (‘n lidmaat skenk R10000 om die erf in Mocuba te koop, ‘n gholfdag, spaarblikkies en kunstenaar-optredes maak alles deel uit van die meer as R300 000 wat ingesamel is!). Alles vir die Here se Koninkryk!

In 2011 was daar ‘n groot uitreik vanaf GK Strand met 20 lidmate en 4 voertuie olv ds Danie Murray . Gedurende 2011 word die staalstruktuur van die kerk in Mocuba grotendeels geskenk, afgelewer en opgerig deur ‘n lidmaat van GK Stellenbosch. Die kerk is na ‘n paar jaar voltooi. In 2013 vertrek ds Murray en een GK Strand-lidmaat op ‘n verdere uitreik per vliegtuig na Blantyre. In Milange word seminaarliteratuur ingepak. Tacwane se mense was opgewonde toe jeugleiers ook opgelei word. Narembo, Morambo en Candeni was vir die eerste keer besoek.

Deur die jare het daar merkwaardige goeie maar ook hartseerdinge gebeur.  GK Annlin het aktief en selfstandig begin uitreik na verskeie dorpe in Zambesia sedert 2012. Hulle het ook al in 2013 begin met kerkbou in Nicide en Tucuane. In Magodane was daar groot skade met gesaaide landerye wat verspoel het. Ds Jussa was uiters dankbaar toe GK Strand ‘n skenking van 30 sakke meel vir gemeentelede afgelewer het (Mamma Madima, nou al oorlede, het bv 38 km te voet afgelê vir haar sakkie kos en om te luister na die boodskappe van die Here). Daar was ook hartseer toe 2 uitreiklede in 2011, oppad terug huistoe, gesterf het in ‘n motorongeluk naby Nicuadala.

Gedurende uitreikjare, het nie minder nie as 20 Reformatoriese gemeentes ontstaan. GK Strand kan met nederige dankbaarheid die afgelope 25 jaar se evangelisasiewerk in Mosambiek gadeslaan. Ds Danie Murray besoek elke jaar soveel gemeentes as waartoe hy in staat is. Hy het ons gebede baie nodig. Hy het al 12 keer malaria gehad, maar niks stuit hom as dit by koninkrykswerk aankom nie.

Ons bid vir al die koninkrykswerk wat in Mosambiek gedoen word.

Soli Deo Gloria!

Geopende Deure - Somalië

Vandag vra ons voorbidding vir Somalië – die land is tweede op die lys van mees geslote lande vir Christene.

Somalië is ʼn meerderheid Moslem-nasie en die samelewing verwag dat alle Somali’s Moslems moet wees. Imams in moskees en madrassas verklaar openlik dat daar geen plek vir Christenskap is nie. Die gewelddadige rebellegroep al-Shabaab het herhaaldelik sy ideaal uitgespreek om alle Christene in die land uit te roei.

Christene vanuit ʼn Moslem-agtergrond word as hoë-waarde teikens geag en kan summier doodgemaak word as hulle ware identiteite aan die lig kom. Christene ervaar ook ernstige vervolging vanaf hul families en gemeenskappe. Dit word as verraad teenoor die familie en stam gesien om
Islam te verlaat, en familielede en stamleiers teister, intimideer en vermoor Somali-bekeerlinge. Enigeen wat daarvan verdink word dat hy ʼn Christen-bekeerling is, word fyn dopgehou deur die senior gemeenskapsleiers en selfs deur hul eie familielede. 

ʼn “Kerklewe” is onmoontlik, so die enkele gelowiges moet in die geheim ontmoet. Islamitiese militante het hul jagtog op Christene wat in ʼn leierskapposisie is, verskerp. Al-Shabaab het die afgelope jaar verskeie gewelddadige aanvalle in die hoofstad, Mogadishu, uitgevoer en talle soldate en burgerlikes doodgemaak, met honderde meer wat gewond is. Die politieke
landskap het versleg en jihadistiese groepe buit dit uit, wat daartoe lei dat hulle volgelinge toeneem en hul strewe om die land se gebiede te beheer versterk word.

Bid Asseblief Vir Die Volgende

(1)
Gewelddadige Islamitiese ekstremisme neem toe. Bid vir vrede en vir God se beskerming oor Sy Kerk.
(2)
Somaliese gelowiges staar ernstige isolering in die gesig. Bid dat hulle God se vertroosting sal ervaar en maniere sal vind om in hul geloof te groei.
(3)
Vir God se wysheid en beskerming oor Geopende Deure se werk in die Horing van Afrika en dat dit baie vrugte sal dra.